die skilder (vir Amos Langdown)

01/06/2021 0 min

Listen "die skilder (vir Amos Langdown)"

Episode Synopsis

die skilder
(vir Amos Langdown*)

buite teken reёndruppels teen ruite
kontoere deurweek in reënboogkleure
vrouefigure beur teen die wind
in ‘n ander staan ‘n ma met haar kind

só kon jy nog altyd met ‘n kwasstreep
die lewe se kaalvoetmerke verf

en nóú wil ek met woorde
jou op hiérdie doek verf
want elke keer as dit reёn
word verf verwaterde trane
wat wegsink in plet* se duine

stil is die kwas
in die skilder se hand


* Amos Langdown was ‘n bekende skilder van Port Elizabeth. Van sy werke is opgeneem in versamelings in Duitsland, Italië, Holland en die Smithsonian-instituut in Washington. Langdown se eerste uitstalling was in 1964 in die Edrich-galery op Stellenbosch – ’n eerste vir ’n bruin skilder.

** Plet is ‘n afkorting wat inwoners van Plettenbergbaai gewoonlik gebruik wanneer hulle na die kusdorpie verwys.

(C) 2021 Selwyn Milborrow